Oos-5 ‘n Etosha dagboek

‘n Dagboek beskrywing van ‘n eerste besoek aan Etosha:

Deur Ds. Welly du Toit

Etosha, ‘n toewerwoord vir iemand wat nog nooit daar was nie.

Etosha. As ‘n mens nie mooi weet hoe om dit te spel nie, kan jy as jy dit hard sou uitroep, dink dit is iemand wat hard nies. Dit klink soos ‘n towerwoord vir iemand wat nog nooit daar was nie. Ja, wat weet ‘n gebore Griekwalandwester nou van Etosha. Dis bietjie anders as die groot gat in Kimberley. Baie gehoor, gehoor van wild by watergate en nog wat. Maar self, nog nooit gesien of besoek nie. En hoeveel van hierdie plek se mense was ook nog nie daar nie. Tot my eie skande moet ek sÍ, ek was baie jare in die Noord-Kaap voordat ek die groot gat besoek het. Etosha en Kimberley het iets in gemeen, ‘n gat. Die een is ‘n watergat, die ander ‘n diamant gat. En albei lÍ in die agterkant kant van die wÍreld. Altans, so voel dit. Maar as jy daar bly en die mense leer ken, dan is dit ‘n heel ander saak. In elk geval, ek en my ouers besluit om "gou" Panne toe te ry, soos die mense hier dit roep. Ons pak vol opgewondenheid in. Padkos, verkykers, kamera’s, swemklere. Kan eintlik nie dink ons sal swem nie, dit is so koel hier in Walvis. Maar die weervoorspelling praat van 38 daarbo. Klink my meer na "daaronder" se temperature. Ons pak sommer oornag, om Maandag oggend vroeg te ry. Ons val 07:30 in die pad, ‘n mens ry mos altyd later as wat jy beplan het. Dis Swakop, dan Usakos, dan Karibib. Ek is jammer om te sÍ, maar dis die vuilste toilette wat ek in ‘n lang tyd besoek het. Besef die mense nie dat hulle kliente verloor as hulle nie die goed skoonhou nie. Ons besluit sommer net daar en dan om te knyp en deur te stoot Omaruru toe. Miskien is daar ‘n gerage met skoner toilette. Met die wegdraai na Omaruru draai die pad sommer eers reguit suid af, Kaap se kant toe. Ek dink eers dis ‘n fout, maar kom gou agter dat die pad oor die brug terugdraai, Noordwaarts.

Dis warm en droog. Die veld lyk sleg. Jy sien geen diere meer in die veld nie. Die wat jy nog sien, loop in groot troppe in die poorte. Seker die laaste bietjie weiding wat nog oor is. As dit ook op is, wat dan. Dan is mens en dier alleen aan God se genade oorgelaat. Nou eers besef ek hoe droog dit is. Noudat ek hier kom. Droogte is soos ‘n boemelaar wat saam met jou eet, by jou in dieselfde bed slaap en saam met jou loop net waar jy loop. Hy omhels jou deurentyd en hy sÍ selfs vir jou wat jy moet droom en wat jy moet dink. In so ‘n oorslaanjaar verloor selfs die driedorings hulle bas. Ek ken droogte. Ek het groot geword saam met droogte. Ek onthou hoe my pa elke dag hardop die woorde van my oupa herhaal het, "elke dag is ‘n dag nader aan die reŽn". Droogte maak wilde diere mak. Op my geboorte plaas het die springhase saans sommer op die grasperk kom wei. Hulle was nie meer bang nie, net honger, blindhonger. En elke dag is die lug dieselfde, skoon, droog, blink soos glas wat wil breek. Soms is daar sulke wit vliese in die lug, landbankvliese het ons hulle genoem. Die westewind waai die lug skoon, waai hom droog, waai hom blink. Soms kan die wolke so mooi saampak, dan kom die wind en waai alles skoon weg. In so ‘n tyd moet ‘n mens net stil wees. Buig onder die hand wat op jou lÍ, buig laag, buig gewillig, buig geduldig, "so Here, so bly U in beheer". Droogte breek ‘n mens in. Jy moet dit verduur, soos ‘n siekte, dat ‘n mens al die ellende daarvan in jou kan opneem, sonder murmurering of verset, voordat jy ‘n kind van die wÍreld kan word.

Van Kalkfeld het ek nog nooit gehoor nie. En dis ook ‘n plek op pad na Etosha. Omaruru, ek moet eerlik sÍ as ek nou so sit en skrywe en terugdink, dan onthou ek nie veel van die dorp nie. Daar is ‘n Omaruru rivier, of so-iets. Ek is nie so seker nie. Wat ek wel onthou, die toilette was skoon. Ons kom so middagete se kant in Otjiwaringo aan. Dis toe tot ons verbasing ‘n plek met "robots". Dan sal daar seker ‘n Wimpie ook wees. Ons ry die hoofstraat twee keer op en af, voordat ons by iemand verneem dat daar nie ‘n Wimpie is nie, maar wel ‘n Get Lucky. Klink amper soos ‘n Kentucky. ‘n Get lucky kentucky. Wel ons was die middag lucky om so ‘n oulike plek te kry. Komplimente aan die eienaar. Die ete was heerlik en die lugverkoeling werk goed. Beter as die motor s’n. Val nou in die pad na Outjo op ‘n middag in die middel van November, kort na ‘n heerlike middagete. Dit is mos amper onchristelik en onredelik om dit van ‘n normale mens te verwag. Ons is deur Outjo, ek dink weer aan die trappe van vergelyking, Moeilik Gobabis Outjo. Die Gobabis mense sÍ natuurlik dit net andersom, Moeilik Outjo Gobabis. In elk geval, maak nie saak wie die moeilikste is nie, dit was die middag dat ek deur Outjo is, vrek warm en droog. Ons kruip al nader aan die towerwoord. In my gedagtes wonder ek hoe lyk dit as jy ingaan by die hekke. Daar staan seker so groot op ‘n koepel oor die pad geskrywe, WELKOM IN ETOSHA. Of so-iets. Of dit staan seker in Duits daar geskrywe, of in een of ander taal, of seker Engels. Dis mos die amptelike taal wat die meeste mense nie juis kan praat nie. Ek weet nie, ek sal maar sien.

Kom ry gerus volgende week verder saam met ‘n gebore Griekwalandwester deur Etosha.

Die hek was glad nie indrukwekkend nie. Dit sommer so ‘n grasdak huis wat nie mure het nie, jy stop onder die dak, en ry dan dwarsdeur. Die amptenaar op diens is baie vriendelik. Jy vul ‘n vorm in met ‘n klomp vrae. Oorkant stop ‘n bus met ‘n klomp EuropeŽrs. Kan net Duitsers wees want hulle lyk mos sommer soos Duitser. Kan nie veel oor hulle sÍ nie, ek het een getrou. Hulle geniet die "Africa Wildlife" in ‘n reuse luukse lugverkoelde Mercedes bus, drankies word bedien, alles is net van die duurste. Ander kant die hek is ons die ene oge. Wie sien eerste die eerste stukkie wild. Springbokke en kameelperde is sommer enkele tree anderkant die hek sigbaar. En is die goed nou mak. In my grootword terme was ‘n springbok altyd net van ver te sien, dan het hy nog meeste van die tyd gehardloop ook. Hier staan die goed sommer teen die pad. En hy skrik nie eens vir ‘n motor nie, jy kan maar stilhou. Hy hou aan vreet aan sy bossie wat redelik droog en vol stof lyk. Maar hy is tevrede. En hy het vrede met jou. Hy het belangriker dinge om te doen. Hy moet sy maag vol kry, hy het nie tyd vir ‘n klomp nuuskierige wildkykers nie. Wonders soms wat sou ‘n springbok sÍ as hy nou eintlik kon praat. Seker iets soos "kyk nou hoe ek eet en kyk nou klaar dat ek in vrede verder kan vreet". En ‘n kameelperd lyk mos mooi van ver af, maar ver van mooi af. Kyk hom in die gesig, dan moet jy sien hoe lelik lyk hy. Dit lyk of hy sy kop gestamp het twee keer reg bo-op in die middel. En hy het te laat botter op gesit, toe kom daar twee hewige knoppe uit. Wonder wat het die Liewe Vader bedoel toe hy hierdie skepsel twee sulke horings gegee het??? Dit is nie regtig horings nie, want dit lyk soos twee sulke vleis knoppe. Wat my opgeval het, is dat jy ligte kameelperde en donker kameelperde kry. Ag wat, jy kry ligte mense en donker mense ook. En as ‘n kameelperd stap, dan tree hy mos eers sy linker voor en linker agter been na vore, dan balanseer hy homself op sy regter voor en regter agter been. As die linker bene dan voor neergesit is, dan balanseer hy homself weer op hulle, en sit die regter voor en regter agter been vorentoe neer. En as hy waterdrink span hy mos eers sy twee voorbene so wyd as hy kan uitmekaar. So asof hy ‘n maatband in sy hand het en die breedte van die watergat wil meet. Dan knak hy die twee voor bene se knieŽ en bring sy lang nek daar van bo af grond toe om by die water uit te kom.

In elke geval, ons ry toe daarvandaan reguit Okkuejo toe. Ons kry nie 50% afslag nie, want ons is nie een ‘n NamibiŽr nie. Die kamp lyk netjies. Die swembaddens lyk klaar aantreklik. Die swembroeke het nie verniet saamgekom nie. Dis vrek warm. Rondawel 77 het eetgerei en ‘n lugverkoeling in. Ai, dankie vir daardie lugverkoeling. Is dit nie goeie nuus nie. En die watergat is nie te ver daarvandaan af nie. Ons parkeer net die motor en loop dadelik gat toe. Ons moet eers sien watse wild is daar. Die opgewondheid is groot. Toe ek nog so 50 meter aankom, sien ek die vaal grys berge wat daar staan. Daardie groot goed moet ‘n stertjie van voor en ‘n stertjie van agter. Is dit nie asemrowend om ‘n Olifant so te sit en kyk en tog so naby hom te wees nie. Hierdie goed sal nooit van stress doodgaan nie. Dit is die rustigheid vanself. Hulle loop in die water en lÍ-val so op die sy, soos ek in my dubbelbed inval na ‘n besige dag. En daar lÍ hulle in die water. Ek wens sommer ek kan saam met hulle in die water spring en ook net daar tussen hulle lÍ. Dit sal my laaste lÍ wees. Maar toemaar. Hulle lÍ soms so diep dat net die slurp soos ‘n wafferse suurstofpyp uitsteek. Amper soos ‘n creepy crawly. Daar anderkant staan ‘n alleen Gemsbok. Seker ‘n uitskopram. Tussendeur kom ‘n paar tarentale waterdrink. En ‘n kameelperd. En ‘n klomp pajamabaadjies (sebra’s) staan eenkant en wag totdat die olifante eers klaar in die water gemors het. Hoe sal hulle nou die badwater moet drink na die badsessie van die olifante. Maar hulle het nie ‘n keuse nie. Dan is ek sommer dadelik dankbaar vir krane. Ek kan net ‘n kraan oopdraai en vir myself water tap. En dit nog koud maak ook. Dankie Here dat U my ‘n mens geskep het en nie ‘n olifant nie. Soms lyk ek seker soos ‘n olifant. Maar, eerder fat en happy as maer en misrable. My vrou sÍ ook altyd sy is dankbaar sy is nie ‘n olifant nie, want ‘n olifant is 24 maande dragtig en ‘n mens net nege maande.

Ons moet eers terug om te gaan afpak. ‘n Lekker twee slaapkamer rondawel. Yskas, tweeplaat stofie en ‘n lugverkoeling. Die sit ons dadelik aan. Wreed was ons ontnugtering toe die lugverkoeling na 2 minute die krag afskop. Dis mos nie ‘n probleem nie, sit dit net weer aan. Na 2 minute weer dieselfde storie. Ons het gehoor dat hulle nuwe lugverkoelings ingesit het voordat "miss world" hier in NamibiŽ gekies is twee jaar gelede. Nou is "miss world" weg en die goed werk nie. Wat ‘n tragedie. Nou sit ons met "miss word" se mis(s)-oes lugverkoelings. Ons pak maar alles af, pak ‘n vuurtjie aan en sit ‘n ou vleisie op die kole. Ons wil vroeg eet, want vannaand moet ons by die gat sit. Soos iemand gesÍ het: "gats jong ek meen jong, gats, hier by die gat moet ‘n mens baie stil sit, want as iemand ‘n geluid maak, dan kry jy ‘n vuil kyk van een of ander Europeer wat hier langs of naby jou sit". Die tarentale is klaar lastig om te kyk of daar nie ‘n ou oorskiet broodjie van die tafel afval nie. Laat my dink aan die Siro-fenisiese vrou in Matteus 15 wat vir die Here gesÍ het, sy eet tog van die krummeltjies van die tafel af. En die blou spreeus, ek weet ook nie of dit spreeus is nie, maar dit is sulke mooi blou voŽls. Hulle is omtrent hans, hulle sal sommer saam met jou aan tafel kom sit en kos uit jou bord eet.

Na ete is ons almal daar weg gat toe. Wonder of die ou grotes nog daar sal wees.

Ons gaan sit met ons vol mage daar by die gat. Ek trek my hand so deur my deurmekaar hare. Dit voel klip hard van die droŽ klimaat. Dit voel sommer vuil. Geen sjampoe en condisioner sal dit sommer met een was weer regkry nie. Ek voel moeg van die 613 km wat agter die rug is. My regterarm is rooi gebrand van die son. Die bestuurder sit mos altyd met sy een kant een helfte van die dag in die son. Dit is net na sononder, en steeds vreeslik warm. Daar is sulke harde groen bankies by die watergat. Ons vier pas net in op ‘n bankie, dis nou ek, my pa en ma en my vroutjie. Ons is nou nie die kleinste mensies nie, maar ons darem ook nie olifante nie. En daar mag jy nie praat nie. Nie ‘n woord hardop uitspreek nie. Netnou skrik dit die diere af. Jy moet so stilsit soos ‘n meuseumstuk. Jy sit daar soos in ‘n konsert. Die gordyne is oopgetrek, die "show" word opgevoer deur die diere wat hier voor jou kom waterdrink. Die toneel verander voortdurend. En wat die opwinding veroorsaak, jy weet nooit wat en wanneer word die volgende toneel begin nie, want die program dui dit nie aan nie. .

Toe ons kom sit, was toneel een reeds aan die gang. Die sprei ligte wat die gat verlig was ook reeds aangeskakel. Twee renosters wat kom water drink. Maar die twee lyk soos twee boere Afrikaners wat al in die verlede koppe gestamp het. Miskien oor ‘n grensdraad of ‘n droŽ boorgat wat albie moes gebruik. "Nee!, ek drink hierdie kant water, jy kan aan die ander kant van die gat gaan water drink. Ek was eerste hier. Verstaan my baie mooi. Moenie moeilikheid soek nie." Die grootste van die twee, seker die jonger een, stap geduldig om die watergat en kom drink hier regvoor ons water. Al wat ons natuurlik van hom te sien kry is sy agterkant. En hy drink en drink en drink. En hy drink nogmaals en drink en drink. Ek is spyt dat ek nie op my horlosie gekyk het toe hy begin drink het nie. Dit was seker 15 minute aaneen. Hy was egter nog nie klaar nie, toe word hy van die verhoog afgejaag sodat toneel twee kon begin. Uit die donkerte kom twee groot vaal ronde klippe geruisloos aangerol. Maar dit maak feitlik geen geluid nie. Twee reuse olifante. Albei stap ook reg om die watergat en kom verwilder die renoster hier waar hy besig was om sy dors te les. Hy het so 10 tree agteruit geskuifel en op sy sy gaan lÍ, soos ‘n kar wat sommer so op sy sy geval het. Daar het hy geruisloos bly lÍ totdat die twee olifante hulle dors geles het, en klaar in die water gemors het.

Ons staan eers weer op, ons agterstewes is seer gesit. Jy moet so geruisloos as moontlik opstaan en weer gaan sit. Jy moet tog nie die diere versteur nie. Nou eers besef ek dat die paviljoen rondom ons volgeword het in die laaste uur of so. Al die banke is vol. Rondom ons staan selfs ‘n klomp mense wat nie plek gekry het nie. Ook ou mense. Ek voel so half skuldig. Moet ‘n mens nou uit respek opstaan vir ‘n ouer persoon. Gou oortuig ek myself dis nie nodig nie, want dan sal ek elke aand staan want hierdie klomp oorsese fosiele is almal ouer as ek.

Aan die oorkant verskyn uit die donkerte weer twee kameelperde. En so 5 minute later nog ‘n kleintjie. Hulle kom so versigtig versigtig nader. Hulle vat so ongeveer 20 tot 30 minute vandat hulle in die lig verskyn totdat hulle nou regtig vooroor gekniel staan om water te drink. Dit is asof alles stadig gedoen word, en asof alles eers veilig moet wees, en dan moet niks haastig gedoen word nie. Die twee olifante is klaar gedrink en gemors. Hulle skuifel skuifel so teen ‘n slakke pas weer weg in die donkerte. Die renoster hier voor ons staan weer op en gaan voort met sy suip-sessie. Die kameelperde meet elkeen sy stukkie op die grond uit aan die anderkant voordat hulle die koppe daar van bo af bring om te drink. Agter hulle kom ‘n jakkels deur gehardloop. Hy is darem anders as al die ander diere. Hy is haastig. Haastig en onrustig. Hy staan nie een oomblik stil nie. Net die paar sekondes wat sy mond in die water is om water op te slurp, staan die lyfie stil. Andersins beweeg hy senuagtig rond. Laat my dink aan my buurman. Hy staan nooit een oomblik stil nie. Altyd besig, altyd aan die gang. Wie sal nou ‘n jakkals vyand in die natuur wees.

Almal sit natuurllik met die hoop in die hart dat die leeus sal kom waterdrink. So 23:00 besluit ek om die konsert prys te gee vir ‘n bed. Soos ‘n gehoorsame leeuwyfie volg my vrou my dadelik. Ons gaan terug rondawel toe, my pa en ma besluit om nog te sit. In die rondawel is dit so warm dat geen mens sal kan slaap nie. Ons trek uit, lÍ-rus so skuins soos die renoster daar by die gat gedoen het. En toe skielik hoor ek dit. Die gebrul van ‘n leeu in die stilte van die nag. Dit weergalm so deur die stil naglug. Ons spring albei gelyk op. Trek in een beweging aan en sit die stuk in, terug gat toe. Op pad kry ek my ouers, oppad terug van die gat af. Nee, hulle het geen leeus hoor brul nie. As ‘n ou mens besig is om te loop, hoor hy nie so goed nie, maak ek dit vir myself uit. Ons laat hulle maar voortgaan, ons is seker ons het reg gehoor.

En het ons nie reg gehoor nie. ???

Toe ek by die gat kom, is almal wat daar sit so half gespanne. Pen orent. Jy kon ‘n speld hoor val. Aan die mense kon ek sien, hier is iets groots. Natuurlik het ek my plek op die groen bankie afgestaan. Dis asof ons te laat was vir die aanbreek van die hoof toneel van die aand. Aan die oorkant van die watergat staan twee leeu mannetjies styf teen mekaar en water drink. So 20 m regs van hulle staan twee versteende renosters. Hulle roer nie ‘n oog of oor nie, maar hulle beweeg ook nie weg nie. Hulle staan soos twee standbeelde daar. Met die rug na die leeus se kant. Die leeus het seker vir 15 minute gedrink, sonder om hulle koppe op te tel. Hulle kan mos met groot gemak water drink. Hulle het geen spannning nie. Hulle het geen gevaar nie. Hulle is mos nie verniet die koning van die diereryk nie. Hulle is die baas hier. As jy die baas is, is jy op jou gemak. Jy is nie gestress soos die arme jakkelsie en soos die springbokke nie. Hulle moet altyd ‘n paar slukke neem, dan eers weer kyk of daar nie gevaar aankom nie. My vrou hardloop na so 10 minute terug rondawel toe om vir pa en ma te roep. Hulle was reeds in die bed. Hulle skarrel om uit die slaapklere te kom. Dit alles verniet. Toe hulle daar aankom, het die twee konings reeds in die donkerte verdwyn. Toe die twee leeus so weggestap het, het hulle elkeen met die agterpote so stof geskop en so ‘n urine merk gemaak op die bossies en sand onder hulle. Seker net om weer hulle gebied af te baken. Hier is die hoekpaal, hierdie grondgebied behoort aan ons.

Die twee renoster standbeelde het eers so ‘n paar minute nadat die leeus verdwyn het, weer begin beweeg. Eers net hulle ore, dit het so orent gestaan asof vasgegom met bostikt, nou het die ore weer slap gehang. Toe hulle koppe en oŽ, daarna het hulle voete weer lewe gekry. Die een het so ‘n groot bol gelos, asof hy so groot geskrik het dat hy dit nou eers los. Hulle het weer omgedraai en terug gekom water toe. Hulle het albei verder hulle dors kom les. Want hulle dors was groot. Nadat hulle klaar gedrink het, het hulle ook so stof opgeskop met die agterpote. Die een het weer drie of vier sulke bolle mis gelos, dit dan weer toegeskop met sand. So asof hy by die leeus afgekyk het. So tussendeur het daar ‘n jakkals deurgehardloop om ‘n paar slukkies water te drink. Toe hy weghardloop (hulle loop mos nie, hulle is altyd op ‘n drafstap), hardloop hy reguit in die rigting van die mense. Die spreiligte het hom seker verblind. As daar nie ‘n muur tussen ons en hom was nie, het hy seker tussen ons deur gehardloop.

Daar het nog sebra’s en kameelperde gekom. Maar ons het besluit om weer te gaan inkruip. Al vier van ons. Ons het baie in ons skik terug gekeer rondawel toe. Ons het die ou grotes gesien. Dit waarvoor almal gewag het, het gebeur, en ons was bevoorreg om dit te aanskou. Ons het die gat stadig verlaat, sonder haas om in die bed te kom. Want ons het almal geweet, dis te warm om te slaap. Dis Etosha in November. Terug in die rondawel, het ek ‘n spinnekop so groot as die palm van my hand voor die deur gerky. Ek het so groot geskrik, dat ek met die eerste skoot, hom skoon mis slaan met die skoen wat ek toe reeds uitgetrek het. Daar hardloop die spinnekop, die nag in. So vaagweg in die lig kon ek hom sien beweeg. Ek slaan nog so een skoot in die donker agter hom aan, dit was toe raak.

So ‘n uur of twee later hoor ek iets vroetel by die asdrom. Die asdrom is van blik, dit raas vreeslik as jy die deksel optel. Dit klink asof iemand die deksel optel en dit weer laat terug val op die drom. Ek loer deur die venster en sien hoe die jakkals met sy bek trek aan die swartsak wat uitsteek onder die deksel. Jou werklik waar, die volgende oomblik trek hy die asdrom om en dit val met een groot gedonder op die grond. Jy hoor net bottels en blik en ‘n geraas. Die jakkels hardloop nie weg nie. Hierdie boemelaar het al meer as een keer in sy lewe hierdie episode deurgemaak. En as ‘n mens honger is, is jy nie bang nie. Droogte maak ‘n wilde dier mak. Hy is ‘n ou kalant. Hy snuffel in die gemors rond vir die bene wat ons die aand daarin gegooi het. Kry dit gou en begin rustig daaraan vreet asof hy niemand gesteur het nie en totaal geregtig daarop is.

Ons was bly toe die lig deurkom oor die horison en die nag soortvan verby is. Om half vyf kry ek en my vrou en my ma mekaar in die kombuis. Ons lag toe ons almal daar staan. Ons weet nie juis waaroor ons lag nie. Sommer net omdat dit warm is en omdat ons nie een juis geslaap het nie. Ons lag sommer net. As mens mos moeg is en min geslaap het, raak jy mos simpel. Ons maak maar ‘n koppie koffie en besluit maar om weer te gaan kyk of die konsert by die watergat nog aan nie gang is. Ons het eers gevoel dat ons drie nagte sal slaap, maar ons het net vir twee bespreek. Na hierdie eerste nag is ons bly dat daar net een nag oor is. Ons sien uit na Walvis se koel weer. Twee nagte weg is genoeg. Ons sal maar nie langer bly nie. Ons sal volgende keer langer bly, as die lugverkoelings reggemaak is???

Ons ry die oggend uit na Gemsbokvlakte. My pa is baie omgekrap omdat ons nie gebly het om by die watergat te sit nie. Maar nadat ons so ‘n rukkie op pad was, was hy nie spyt dat hy tog saamgekom het nie.

By Gemsbokvlake sien ons sebra’s by die honderde, kameelperde, blouwilde beeste, kraaie, koedoe’s, en jou werklik waar, ses leeu wyfies. Was dit nie ‘n fees nie. En natuurlik gemsbokke. My pa was eers ontevrede dat ons besluit het om te ry. Maar hierdie fonds stel hom gerus dat dit oor en oor die moeite werd is. Veral nadat ons die leeus gesien het. Ons ry verder na olifantsgat. Daar sien ons rooibokke, airial sterte (vlakvarke) ‘n volstruis met kleintjies wat kom water drink, hartbeesbokke (ek is nie seker nie maar ek dink dis soos die goed geroep word), koedoe’s, gemsbokke, sebra’s en nog blou wilde beeste. Alles saam by die watergat. Dis asof die diere in harmonie met mekaar leef. Hulle gee mekaar kans om te kom water drink. Behalwe natuurlik die olifante wat oorneem wanneer hulle kom water drink, dan mors hulle ook nog in die water. En die leeus wat alleen wil water drink. Is dit nie maar in die mensewÍreld ook so nie. Jy kry die olifante wat oorneem en mors en alles bemors. Hulle dink nie dat daar nog mense na hulle ook wil kom drink nie. En dan kry jy die leeus, as hulle aan die beurt kom moet almal toekyk. Almal moet weet dat hulle important is. Ja, kan ‘n mens nie leer by die dier nie. Ek dink dat diere in baie opsigte baie beter as mense is. Het jy al ooit gesien dat ‘n reuen hond ‘n teef hond byt. Hoeveel mans slaan nie hulle vrouens nie? Het jy al ooit gesien dat ‘n koedoe met ‘n gemsbok paar? Het jy al ooit gesien ‘n klein leeutjies vir pa leeu rond shunt, of dat klein kameel perdjies vir sy ma rond"order"? Het jy al ooit gesien dat ‘n dier, as die bos gebrand het en dit rook nog, sy kop daarin steek om van die rook in te asem sodat dit hom kan kalmeer? Ons sal miskien sÍ dat diere te dom is om sulke goed te doen. Dan is dit jammer dat party mense nie ook dommer gemaak is nie! Met hulle slimheid vernietig hulle hulself. Ek het net twee dae voordat ons panne toe is my ouers gaan wys hoe Langstrand lyk. Toe ons inry het mense by die ingang gestaan en kollekteer. En het hulle my nou allerhande vloekwoord agterna toegeroep omdat ek nie gestop het nie. Ek het eers kwaad geword in my binneste. Totdat ek myself gekalmeer het dat dit mense is wat onopgevoed is. Mense wat nooit geleer het om hulleself in die openbaar te gedra nie. Ek is jammer om dit te sÍ, maar ek het skaam gekry dat ek my pa en ma juis daardie middag daarheen geneem het. Dit was van my mense wat hulle so swak gedra het. Ons was nie bewus daarvan dat daar enige iets aan was die naweek nie. Nog minder was ons bewus daarvan dat ons moet betaal om daar deur te ry. Dit het my laat dink dat die diere soms beter af is, as ons.

Terug in Etosha. Ons het elke watergat aangery op pad na Halali. Vir die wat Etosha gaan besoek in die volgende weke. Die watergate teen die pan het nie wild nie. Ons het hulle almal omgery. Ons drink so ‘n lafenis by Halali. Op die stoep het iemand sy roomys laat val. En het die een spreeu dit nie geniet nie. Hy kan nie sy kop gou genoeg op en af beweeg om elke keer hierdie lekkerny gesluk te kry nie. Daarvandaan is ons gou by die watergat aan, sommer daar teenaan die kamp. Julle sal my nie glo nie. Ons het getel tot 56. ‘n Groep van 56 olifante in een watergat. Nie by die watergat nie. Let wel, binne in die watergat. Die sebra’s het daar eenkant gestaan en toekyk hoe hierdie spulletjie hulleself geniet. Het hulle nie gespeel en geswem en teen mekaar gestamp en mekaar nat gespuit nie. Dit was heerlik. My pa se ontevredenheid dat ons nie in Okukujo gebly het nie, was nou sommer heeltemal verby. Nou was dit oor en oor die moeite werd dat ons hierheen gekom het. Ons het daar gesit en hierdie toneel aanskou. Dit raak later vervelig. Maar jy sit en kyk maar, jy weet nie wanneer jy weer die voorreg sal hÍ om dit te sien nie. Jy drink dit in, asof jy vir baie lank nie water gaan kry om te drink nie.

Daarvandaan is ons terug kamp toe. Weer so ‘n draai of twee by die watergat gemaak. Weer probeer om die nag om te kry. Die volgende oggend het ons vroeg ingepak. Huistoe. Walvis toe. Koel weer, dit is al wat in my gedagtes omgegaan het. Koeler weer.

Die eerste keer sedert ek in Walvis gekom het, verlang ek. Ek weet nie presies na wie ek verlang nie. Ek verlang sommer net. My ma en pa is met die volgende middag se vlug terug na RSA. Hulle vlieg omtrent die hele dag, Walvis - WHK-JHB-Bloemfontein-Kimberley. En ek is sommer net lus vir huil. Ek verlang hulle. Ek kan nie anders as om te dink aan die baie vakansies wat ek vanaf universiteit huistoe gegaan het nie, as die vakansie dat verby is, was die afskeid vir my ouers baie swaar. Ek kon dit nooit verstaan nie. Ek was dan so bly om terug te gaan universiteit toe, maar hulle wat agterbly. Hoe het hulle dit ervaar? Ek onthou hoe hulle daar buite die huis in die pad gaan staan het. As ek so oor die motorhek gery het, en ek kyk so deur die stof van die grondpad in die truspieel, dan staan altwee van hulle nog daar. En hulle staan en waai nog steeds asof ek langs hulle sou staan. Dan draai hulle om en gaan die huis binne, en ek is oppad varsity toe, om my jonglewe verder te geniet. Hulle twee stap die leŽ en stil huis binne. Daar waar ek nog netnou was, is dit nou stil. My bed is nog deurmekaar. Maar dis stil. Dit praat nie. Dit is doodstil. My goed is alles weg. My wasgoed is nie meer daar nie. My skoene le nie meer daar rond nie. Alles is ingepak en saamgevat. Vandag voel ek so agtergelaat. Pa en ma is weg, ek is agtergelaat. En dis stil. Hulle was netnou nog hier, nou is dit stil. Dankie pa en ma, al het ons so hier en daar vir mekaar geknor, dankie vir die kuier. Dit was lekker. Baie lekker.

Ek hoop ons sal weer saam Etosha toe kan gaan. Hierdie keer net asseblief in die winter.

Oos-6 Uit Ds se kantoor

 

Terug na Inhoud