Teen die einde van 1985 het Irene gehoor dat die bekende bestuurder, Louis van Wyk, oudisies hou vir 'n nuwe groep. Met die hulp van 'n gemeenskaplike vriend het sy Louis se telefoonnommer in die hande gekry, hom gebel en gevra of sy 'n oudisie kon doen. In daardie stadium het Irene vier aande per week saam met 'n "cover band" gespeel en hy het aangebied om haar te kom sien waar sy optree. Hy was baie beindruk deur haar optrede en het onmiddelik die posisie as hoofsanger en basspeler in die veelrassige vrouegroup, "Chess", aan haar aangebied. "Dit was definitief nie liefde met die eerste oogopslag nie", se Irene van haar man, Louis. "Dit was 'n verhouding wat geleidelik verdiep het en wat ons geheim moes hou tot twee maande voor ons troue in September 1987." Yvonne Chaka-Chaka en Ricardo & Friends was onder die kunstenaars wat op die troue opgetree het. Paul Ditchfield en Eddie Eckstein was die seremoniemeesters..


Irene en Louis

Irene het 'n 9-jarige seun, Vaughn, en 'n 5-jarige dogter, Irene-Louise. "Vaughn is 'n pragtige blonde, groen-oog Skerpioen; die sensitiewe, fyn besnaarde tipe met besondere insig in my emosies.", sê Irene. Sy ambisie is om eendag 'n sportheld te word."



Irene-Louise (bynaam Rientjie) is meer as 'n handvol. Sy is 'n regte klein "tomboy"; 'n Leo met 'n wil van haar eie. Sy het heuningblonde hare met groen-bruin ogies waarin 'n duisend duiweltjies dans. Sy wil eendag 'n "dancing girl" wees.



"Alhoewel ek myself nooit as die moederlike tipe beskou het nie, floreer ek op moederskap," sê Irene. "My lewe wentel om my kinders en ek koester elke oomblik wat ek saam met hulle deurbring. Ek hoop dat hulle eendag die diepte van my liefde vir hulle sal besef."
Irene se nuutste CD, evergreen is aan haar kinders opgedra.



Kopiereg © 1997/98