Die Ander Ek

Alhoewel Irene ten tyde van die vrystelling van "Die Ander Ek" 'n "nuweling" in die solo-opnamewęreld was, het sy definitief reeds haar pad oopgesing in die musiekbedryf. In 1984 het Irene saam met popgroepe in klubs dwarsoor die land begin sing en is spoedig raakgesien deur bestuurder Louis van Wyk, wie haar onmiddelik opgeraap het om as hoofsanger en basspeler aan te sluit by die baie suksesvolle veelrassige vrouegroep, "Chess"
Nadat "Chess" in 1988 uitmekaar gespat het, het Irene saam met superster Steve Hofmeyr se agtergrondorkes, D.U.S.K., begin optree.
In 1993, gedurende die Suid-Afrikaanse toer van Duitse dansgroep "Bad Boys Blue" het Irene opgetree as agtergrondsangeres vir die groep en het sy hulle so beindruk dat hulle haar uitgenooi het om op te tree as gaskunstenaar met hulle terugkeer in 1994. Irene, alreeds bekend vir haar briljante vertolking van enige Tina Turner liedjie, het elke dag by die 1994 Randse Paasskou opgetree in haar eie solo-optrede saam met Steve Hofmeyr. Die aanvraag vir opnames en lewendige optredes het spoedig toegeneem. BMG platemaatskappy het 'n vertoning bygewoon en haar onmiddelik 'n 5-album kontrak aangebied. Steve Hofmeyr het meeste van die oorspronklike snitte op Irene se debuut solo-vrystelling "Die Ander Ek" geskryf. Die album bestaan uit 'n kombinasie van Afrikaanse en Engelse snitte, met snitte soos "Wie Is Die Vrou In Jou Arms Vanaand" en "Wat Wil Jy He" wat 'n nuwe landmerk in Afrikaanse musiek daargestel het, asook die Engelse treffer, "Too Late For Love". Dit was duidelik slegs 'n kwessie van tyd totdat Irene - met die unieke stem - op almal se lippe en stereo's sou wees.


Vrou

Siklone en orkane het altyd vrouename soos Bonita of Cybil. Suid-Afrika se eie musiek-sikloon, Irene, se treffende nuwe album, getiteld "Vrou", gaan soos 'n storm op die musiektoneel losbars. Die verskeidenheid op die album is indrukwekkend en wissel van liriese liefdesballades tot ritmiese rock wat beslis die voete sal laat jeuk. Van Suid-Afrika se top liedjieskrywers soos Coenie de Villiers, Mynie Grove en Steve Hofmeyr, wie groot bewondering het vir Irene se talent en haar ryk stem, het spesiaal liedjies geskryf vir hierdie album. Irene se kenmerkende grinterige stem het van haar 'n gunsteling in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak.
Die album is vol intense emosies en konflik en handel oor sake wat na aan Irene se hart lę. Die energieke, lewendige sanger - wie se ondersteuning vir vroueregte versterk is toe 'n vriendin 'n slagoffer geword het van misbruik en geweld in 'n liefdesverhouding - skenk 'n deel van die nuwe album se wins aan POWA, 'n organisasie wat hom bewyer vir die voorkoming van geweld teen vroue. 'n Ander organisasie wat baat by die nuwe album is SAAV, 'n organisasie wat hom beywer vir die beeindiging van wrede wetenskaplike eksperimente op diere.
Vanwee die uiteenlopende musiekstyle wat saamgevoeg is op die CD is daar lank gewik en geweeg oor wat 'n geskikte naam vir die album sou wees. Daar is helaas besluit op die universele simbool van die Vrou. "Vrou" vervul die belofte van Irene se baie suksesvolle vorige album "Die Ander Ek". "Vrou" is 'n baie meer gesofistikeerde album, tog is daar niks ingeboet in terme van kommersialiteit nie.
Op die nuwe album is daar liedjies wat as omstrede gesien kan word, verald die liedjie oor 'n enkelma wat 'n prostituut word om vir haar kind te kan sorg, "My Naam Is Nie My Naam Nie". Dit is egter een van die lelike werklikhede waarmee vroue oor die wereld heen te kampe het.
Die album sluit Afrikaanse sowel as Engelse snitte in - ALMAL OORSPRONKLIKE TREFFERS. Van die Afrikaanse snitte op die album: "Bly By My Vanaand", "Raak Aan My" (waarvoor Irene self die woorde geskryf het), "Die Kans Wat Nie Bestaan Nie", "Toe Ek Nog Maar 'n Kind Was". Van die Engelse snitte is "Fadin' Face of Love", "Foolish Hearts" en "Tonight".
Met die opneem van die album is van Suid-Afrika se beste musikante gebruik, soos Kevin Kruger (dromme), Denis Lalouette (baskitaar), Johan Laas (klavier) en Jethro Butow (kitaar). Die regisseur was Kevin Kruger en uitvoerende regisseur Steve Hofmeyr. Die ingenieur was die hoogs gerespekteerde en bekroonde Peter Pearlson en al die verwerkings is gedoen deur Johan Laas. Die album is opgeneem in Kaydee Studios, een van die mees gesofistikeerde ateljees in Suid-Afrika. Die album is vermeng in DownTown Studios, Johannesburg.
Daar is ook baie tyd spandeer aan die CD-boekie (al die lirieke is ingesluit) met pragtige foto's van Irene.

Nou kan al haar bewonderaars haar LEGENDARIESE SKOENE sien!!


Evergreen


Irene - DIE STEM - is hier om te bly.

Irene is vir seker geen "storm in 'n teekoppie" nie. Maar met die vrystelling van hierdie dinamiese kunstenaar se nuwe CD sal sy sekerlik kan aanspraak maak op 'n nuwe titel - DIE STEM. Op evergreen ontmoet ons 'n sanger wat nie net vermaak nie. Sy streel die siel, hef die gemoed op en neem jou weg na 'n wonderlike, romantiese wereld. 'n Hemelse plek waar jy slegs jou oe moet toemaak en na DIE STEM luister. 'n Wonderlike versameling van sommige van die wereld se gunsteling liefdesliedjies is op evergreen saamgevat. Saam met goue gunstelinge soos "Love Hurts", "Loving Arms" en "Morning Has Broken", verskyn treffers soos "Wind Beneath My Wings" en "The Rose", wat jou asem wegneem. Op "The Rose" kan die stem van Steve Hofmeyr gehoor word. "My bewonderaars het 'n album met hierdie konsep aangevra, en ek hou hulle graag gelukkig. Terselfdertyd sou ek nooit iets kon aanpak wat ek nie geniet het nie. Dit was baie spesiaal om hierdie album om te neem omdat ek die geleentheid gehad het om liedjies op te neem wat nog altyd vir my 'n inspirasie was, terwyl elkeen 'n spesiale, amper tasbare, herinnering by my opgeroep het", se Irene. Daar is ook 'n paar Afrikaanse snitte waarvan twee,"Die Wonderlike Liefde van 'n Ma" en "In Die Middel", deur Mynie Grove geskryf is. Nog 'n gewilde treffer, wat Irene bekend gemaak het, "Wie Is Die Vrou In Jou Arms Vanaand", is op evergreen opgeneem. 'n Treffende duet met multi-platinum verkope Rina Hugo, "I Know Him So Well", dra by tot die enigheid van hierdie album. "Dit is 'n album wat almal se smaak sal tevrede stel", se Louis van Wyk, Irene se bestuurder. "Ons het almal ons gunsteling liefdesliedjies en op "evergreen" is daar 'n immergroen gunsteling vir almal van ons."
  • All I wanna do is make love to you
  • Evergreen
  • I know him so well (duet with Rina Hugo)
  • Love Hurts










    Copyright © 1997/98