![[Beeld]](Beeld.gif)
Irene reik haar derde CD uit; beweeg uit Tina Turner se skadu

Datum: 971204
Kategorie: musiek
Uitgawe: PLUS
Bladsy: 014
Naamlyn: Martjie Roos
Nommer: 446416
Publikasie: BEELD
Rubriek: Ligte Klanke
Irene het pas haar derde CD, Evergreen, waarop sy 'n hele rits ou
gunstelinge sing, uitgereik.
Dié sangeres, wie se stem al baie met dié van Tina Turner vergelyk
is, sê sy het lank gesukkel om uit die Tina Turner-skadu te kom.
``Ek was die afgelope paar jaar baie skrikkerig om te veel covers
op te neem anders sou ek nie my eie identiteit kon vestig nie.''
Vir haar eerste CD, Die ander ek, het sy net twee bekende treffers
van oorsese kunstenaars opgeneem en vir haar tweede album, Vrou, het
sy net oorspronklike, nuwe materiaal opgeneem.
``Maar ek het talle briewe van bewonderaars ontvang wat gevra het
dat ek tog 'n CD met treffers moet opneem.''
Irene het 'n lys van treffers en bewonderaars se gunstelinge
saamgestel en ook 'n paar van haar eie by dié lys gevoeg.
``Evergreen was ook een van die liedjies op die lys en ons het
later besluit om dit die titel van die CD te maak omdat dit die
tydlose gees van die meeste liedjies op die album vasvang.''
Irene sê almal wat al na dié CD geluister het, aan haar sê dat een
of twee liedjies daarop vir hulle herinnerings oproep.
``En ek glo dat enige goeie liedjie tydloos is.''
Irene sing benewens die rits bekende treffers soos When I Need You,
The wind beneath My Wings, Love Hurts, The Rose en Loving Arms ook
'n paar oorspronklike Afrikaanse liedjies soos In die middel en Die
wonderlike liefde van 'n ma (albei geskryf deur Mynie Grové) en
Steve Hofmeyr se Wie is die vrou in jou arms vanaand. (Laasgenoemde
liedjie was ook op haar eerste album, maar die vraag daar na was só
groot dat sy besluit het om dit weer op te neem.)
Irene en Rina Hugo het vanjaar tydens die Steve en vriende-toer na
verskeie dorpe hegte vriendskapsbande gesmee.
``Ons het tussen konserte vreeslik met mekaar gespot en mekaar
nageboots. Ek het partykeer soos Rina probeer sing, terwyl sy my
hoëhakskoene aangetrek en my op die verhoog nageboots het.''
Hulle het agter die skerms een keer die liedjie I Know Him So Well
saamgesing en toe het Irene besluit dié duet saam met Hugo is 'n
moet vir haar nuwe album.
Irene, wat in Januarie in die voorprogram van die groep Smokie gaan
optree, en haar gesin het 'n paar jaar gelede Johannesburg vir die
rustigheid van Shelly Beach in KwaZulu-Natal verruil.
``Dit voel partykeer of 'n mens permanent op vakansie is en dit is
heerlik om ons kinders, Vaughn en Irene-Louise, by die see groot
te maak.''
Om ma én sangeres te wees, verg deeglike beplanning. Wanneer sy
toer, moet sake só gereël word dat haar ma by die kinders bly of dat
haar man, Louis, nie uitstedig is nie.
``En as dit moontlik is, toer die kinders partykeer saam. Vaughn
het omtrent op die verhoog grootgeword en is gewoond aan die
vermaaklikheidswêreld.''
Irene sê haar man, die promotor Louis van Wyk, is beslis haar
grootste kritikus.
``Toe ek Louis destyds ontmoet het en nog in die groep Chess gesing
het, het ek altyd gewonder of ek enigsins enigiets reg kan doen op
die verhoog.
``Maar deesdae gaan dit gelukkig beter en as hy my wel kritiseer,
beskou ek dit altyd as positiewe en opbouende kritiek.
Irene sê sy is 'n rolmodel vir baie tieners en sy kry gereeld
briewe van tie ners wat met probleme soos dwelms worstel.
``Ek probeer maar altyd om hulle te help en van die regte raad te
voorsien of om hulle na deskundiges te verwys.''
En as hulle haar vra wat hulle moet doen om eendag 'n sangeres te
word?
``Dan raai ek hulle altyd aan om eers formele sangopleiding te kry.
Daar word vandag al hoe meer druk op kunstenaars geplaas om
veelsydig te wees en die mededinging word al hoe groter.''
Sy probeer altyd 'n produk skep waarop sy trots kan wees.
``Dit gaan nie vir my oor hoeveel plate ek verkoop of hoeveel geld
ek maak nie. Die opbrengs van my plateverkope skenk ek aan
liefdadigheidsorganisasies en geld is dus nie 'n belangrike faktor
nie.
``Die belangrikste is dat iemand daar buite of dit nou 15 of 15000
luisteraars is van my musiek hou.''

Kopiereg © 1997