|
Karin is gebore op 21 Februarie in 'n klein
dorpie in die Kaapprovinsie genaamd Burgersdorp. Sy val onder die sterreteken
Vis. Gedurende haar eerste lewensjaar verhuis haar ouers Frank en Carol
na Oos-Londen waar hulle die familie aanvul met nog twee spruite - nou
'n gesin bestaande uit drie dogters. Karin se ouers het geen moeite ontsien
om haar by te staan in haar groeiproses as jong sangeressie nie en van
jongs af word sy geskool in die sang- en vertolkingskuns.
Die hele gesin verhuis na Gauteng in Karin
se standerd vier (oftewel graad 6 jaar) en Karin raak onmiddelik betrokke
in die teaterbedryf en toer as solis vir twee jaar saam met TRUK en Brickhill
Burke se Sound of Music. Dit behels lang tye weg van die skool en Karin
word deur 'n privaat tutor onderrig gedurende hierdie tye. Sy word ten
spyte hiervan verkies as 'n hoofprefek van haar nuwe laerskool.Haar Hoërskool
loopbaan pak sy aan by die Nasionale Skool vir die Kunste in Johannesburg
(toe bekend as Die Kruin), met sang en musiek as spesialiteite. In standerd
nege skryf sy as 16-jarigedie musiek vir SUKOVS se Leipoldt gedenkfees
en word sy as algehele wenner van die ATKV se Crescendo kompetisie aangewys.
Die jongste wenner ooit!
Hoe het sy in die musiekbedryf beland? "Ek
het op drie jarige ouderdom my indrukwekkende debuut ten tye van die Muizenbergtalentkompetisie
- op die strand - gemaak, met die voordrag van daardie besondere treffer;
'Pollie ons gaan Paarl toe'. Vandaar kon niks my stuit nie". Op grond van
hierdie indrukwekkende debuut het sy al agt albums vrygestel Sy word verder
ook aangewys as Vise-Hoofdogter van die skool en tree al hoe meer op die
voorgrond op televisie en by landswye optredes. Karin besluit om haar tersiêre
opleiding aan die Universiteit van Potchefstroom te ondergaan.
Haar studierigting: Dramakunde en Engels -
sy behaal dan ook later 'n Honneursgraad in Dramatologie aan die Pretoria
Universiteit. Loopbaanhoogtepunte sluit in: "The Sound of Music", waarin
sy in 1975/76 in die Brickhill en Burke produksie gespeel het, die algehele
wenner van CRESCENDO 1980, die Sarietoekenning
in 1983 vir die mees belowende nuweling en haar OKTV - nominasie in 1988.
As dit kom by vryetydsbesteding is Karin obsessief oor haar rekenaar, die
internet en die nuutste passie in haar lewe - scubaduik. Sy is 'n gekwalifiseerde
gevorderde oopsee scubaduiker en het al onder andere die Seychelle, Mozambiek
en selfs Aliwal Shoal saam met "Raggies", geduik!
Maar haar gunsteling plek om vinne nat te maak is Plettenbergbaai, aangesien
sy glo die beste duikskool in die land, Beyond the Beach, van daar af
funksioneer!
'n Lang loopbaan vir 'n jong kunstenaar, 'n
loopbaan besaai met behaalde mylpale en die daarstel van standaarde vir
die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Karin Hougaard 'n kunstenaar in die totale
sin van die woord.
|